
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Geheime Gedagtes
Spreuke 27:19 Soos jou gesig weerkaats in water, so wys iemand se hart wat in hom aangaan. (NLV)
Ons het elkeen 'n verborge gedagte wêreld. Ons dink aan dinge wat ons met niemand anders deel nie, selfs nie eers met ons naaste vertroueling nie. Daardie geheime gedagtes bevat kragtige leidrade wat definieer wie ons werklik is.
Dit is waar, nè? Ons dink aan dinge op dieselfde wyse as wat 'n bees sy koutjie staan en herkou. Ons dink hulle deur, ons rol hulle rond, en ons bekyk hulle van alle kante en – weet jy – daarvolgens beplan ons hoe ons gaan reageer.
Soms is daardie gedagtes positiewe gedagtes. Een van die eienskappe van suksesvolle leiers, is dat hulle die toekoms en hul doelwitte oor en oor visualiseer ... en dan, nadat hulle daardie visie aan diegene rondom hulle verkoop het, lei hulle hul volgelinge in daardie rigting. Dit is die proses van
denke en dade. Dit is goed.
Maar wees versigtig. Soms is ons gedagtes negatiewe gedagtes. Gedagtes oor hoe mense ons seergemaak het, hoe onregverdig dit was, hoe seer dit was en dan volg gedagtes van haat en wraak. Dit volg dieselfde paadjie, eers die denke en dan die dade. Dis nie goed nie.
Dink mooi: watter geheime gedagtes het die afgelope tyd jou gedagte wêreld in beslag geneem? Want ons sien in:
Spreuke 27:19 Soos jou gesig weerkaats in water, so wys iemand se hart wat in hom aangaan.
Daardie geheime gedagtes weerspieël wat in jou hart aangaan en die reaksies wat hulle sal genereer – ja, altyd die gedagte en dan die reaksie wat daarop volg. Hulle weerspieël eintlik wie ons geword het. En terwyl ons hulle doelbewus ondersoek, kan ons dalk net ontdek dat die persoon wat ons geword het, in ‘n mate nie is, wie ons graag wil wees nie!
Neem daarom bestek van jou geheime gedagtes, want … net soos jy jou eie gesig in water weerkaats kan sien, so weerspieël jou hart die soort mens wat jy is.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.