
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Na Wie Luister God?
Maleagi 3:16 Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is 'n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam.
Daar was 'n tyd in Israel se geskiedenis, toe hulle as volk vir die soveelste keer hul rug op God gedraai het en die gevolge van hulle rebellie teen Hom, moes ly …. Klink dit so effens, so vaagweg bekend?
Toemaar, ek weet, want ons het almal al op ‘n tyd ons rug op God gedraai. En net soos 'n kind wat ongehoorsaam aan sy ouers is, en die gevolge moet dra; so sal ons ongehoorsaamheid en ons rebellie teen God, gevolge hê.
Jy kan nie vrede hê wanneer jy teen Hom in opstand kom nie. Jy sal onder daardie omstandighede ook nie sy vreugde ervaar nie. En dit is presies hoe God met ons werk... omdat Hy ons liefhet. Die gevolge en die pyn van ons rebellie ... is daar om ons tot besinning te bring - dit is daar om ons te laat terugdraai na Hom toe.
Kom ons kyk wat met die volk, Israel gebeur het. Hoe het hulle tot besinning gekom? Hoe het hulle God se aandag gekry?
Maleagi 3:16 Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is 'n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam.
Na wie het God geluister? Na diegene wat Hom eerbiedig het. Die oorspronklike Hebreeus sê, aan diegene wat Hom gevrees het. Aan dié wat Hom geëer het. Aan dié wat Sy Naam eerbiedig het.
Is jy miskien deur 'n tyd van rebellie? Het jy miskien jou rug op God gedraai? Is jy miskien nou in so ‘n situasie? Luister,
dit is nooit te laat om terug te draai nie. Hy is altyd gereed om te luister na diegene wat Hom vrees; na diegene wat Hom eer; na diegene wat Sy naam eer. Dis nooit te laat nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.