
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Versprei Jou Beleggings
Prediker 11:1,2 Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug. Hou jou besittings op sewe, selfs ag plekke, want jy weet nie watter teëspoed oor die land kan kom nie.
Ons aanvaar baie dinge in hierdie lewe as vanselfsprekend, maar ons besef nie altyd dat hulle vandag hier is, en heel moontlik môre weg kan wees nie. Al lyk iets ook hoe permanent, gaan die dinge van hierdie wêreld almal eendag tot niet wees.
Ek is getroud met my pragtige vrou, Jacqui. Maar eendag sal een van ons, voor die ander een, hierdie wêreld verlaat. Ons huwelik sal verby wees. Ek is mal oor die plek waar ons woon. Maar eendag sal dit ook weg wees. Ek hou daarvan om in die bediening te werk, maar eendag sal my betrokkenheid hierin ook verby wees.
En dit is dieselfde met jou. Ons elkeen het soveel goeie dinge in ons lewens ... maar eendag sal selfs daardie goeie dinge tot 'n einde kom. Party dinge kan miskien gouer tot ‘n einde kom as wat ons ooit gedink het dit kan.
Daarom moet ons goed doen terwyl ons nog hier is.
Prediker 11:1 Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug.
En dit sal terugkom. Ons sal maai waar ons gesaai het. Maar in die volgende vers kom nog wyse raad:
Prediker 11:2 Hou jou besittings op sewe, selfs ag plekke, want jy weet nie watter teëspoed oor die land kan kom nie.
Met ander woorde, versprei jou goeie werke en liefde – onder jou gesinslede, jou bure en by die werk waartoe jy geroep is. Saai goeie saad waar jy ook al gaan – hier en daar en oral. Jy weet nooit watter slegte dinge een van hulle kan oorkom nie.
Versprei jou goeie beleggings, 'n bietjie soos 'n beleggingsportefeulje. Sodat as een van hulle afgesny is, as een van hulle onverwags tot 'n einde kom, daar nog meer daar buite is wat opbrengste kan lewer en vrugte kan dra.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.