
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Spesiale Kersfees Aanbieding – Onwrikbare Genade
Hebreërs 4:14-16 Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Liewe vriend, op hierdie Kersdag wil ek jou 'n wonderlike geseënde Kersfees toewens. Hierdie een dag van die jaar staan ons spesiaal stil om die ingryping van God se genade in hierdie wêreld, deur ‘n Kindjie se geboorte in ‘n stal, te herdenk.
Maar weet jy, vir baie mense was hierdie jaar 'n moeilike jaar. Om die waarheid te sê, is party mense so verpletter en gekneus deur die lewe, dat dit selfs vir hulle moeilik is om God te dank dat Hy Jesus vir ons almal na hierdie aarde toe gestuur het.
Om dit alles erger te maak, voel ons almal so onwaardig wanneer ons terugdink aan ons mislukkings en foute van die afgelope jaar. Dit maak dit moeilik om die koms van jou Verlosser te vier, nie waar nie?
As jy ook so voel, het ek wonderlike nuus vir jou. Hierdie vers handel oor Jesus wat vir jou na hierdie aarde toe gekom het:
Hebreërs 4:14-16 Terwyl ons dan nou 'n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.
Jesus was ‘n mens, Hy het op hierdie aarde gelewe. Hy verstaan ons uitdagings en ons swakhede want Hy is self versoek en Hy het as gevolg van Sy menslikheid gely … Hy verstaan ons probleme volkome. En daarom kan ek en jy vandag - nou dadelik - met groot vrymoedigheid voor Sy genadetroon kom om Sy guns te ontvang, om weer Sy genade, in ons uur van nood, te ontdek.
Dis wat Kersfees beteken. Dis wie Jesus is.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.