
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Meer en Meer Soos Jesus
Romeine 8:28,29 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.
Sê my, hoe verander jy 'n waarheid - selfs 'n Bybelse waarheid - in 'n leuen? Maklik! Jy sny dit in die helfte, of haal dit uit konteks aan of verkieslik albei. Kyk net na die duiwel. Die vader van leuens. Hy het dit in 'n kunsvorm verander!
Hier is 'n voorbeeld:
Romeine 8:28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.
Halleluja, loof die Here, dis mos hoe die lewe moet lyk. Zippedy-doodah! Dit klink wonderlik … totdat jy die volgende vers lees:
Romeine 8:29 God het hulle geken voordat Hy die wêreld gemaak het. En hy het besluit dat hulle soos sy Seun sou wees. Dan sou Jesus die eersgeborene van baie broers en susters wees.
Wat het God besluit? O! Dat ons soos sy Seun moet wees; daardie bebloede, mismaakte Verlosser wat leweloos aan die Kruis gehang het. Ja, die beproewings wat ons in die lewe deurmaak, is nie daar om ons persoonlike doelwitte van gemak en sukses te bereik nie, maar dit is bedoel om ons meer en meer soos Jesus te maak.
Die kruisiging kom altyd voor die opstanding. Dit gaan seermaak, want die heiligmaking waarna God in my en jou lewe, deur al die angswekkende op- en afdraandes, kinkels en draaie werk, het 'n baie hoër doel.
Soos iemand eenkeer gesê het: Ek het gevind dat om meer soos Jesus te word, baie beter resultate lewer as om 'n beter ‘ek’ te word.
God het jou uitgekies voor die grondlegging van die aarde. En Hy sal ín jou en déúr jou en vir Sy koninkryk, alles ten goede laat meewerk deur elke beproewing wat jy in die gesig staar. Hoekom sal Hy dit doen? Om jou meer en meer soos Jesus te maak.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.