
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Toegang Tot Genade
Romeine 5:2 Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.
Wanneer laas het jy regtig iets verskrikliks gedoen? Iets so sleg, waar jy so ver gedaal het, dat jy skaars weer kon opstaan. En selfs toe jy wel opstaan, was jy te bang om God in die oë te kyk en Hom om vergifnis te vra.
Dit is nie 'n lekker gevoel nie, is dit? Party dae struikel ons en ons dink: “Ag nee, dit was nie so erg nie. God sal my vir daardie sondetjie vergewe.” Maar ander dae begin ons die dag met die heel beste bedoelings om absoluut korrek op te tree, maar my liewe aarde. . . dan maak ons so 'n gemors van dinge - in ons gedagtes, met ons woorde en ons dade en ons doen nie net skade aan verhoudings nie, maar ons bring oneer aan God.
En die skande daarvan oorheers ons emosies, dit oorweldig ons heeltemal, want ons moes van beter geweet het; omdat Jesus Homself gegee het om ons van daardie sonde vry te maak.
As jy in Hom glo, dan ken jy die beginsel. Die bloed van Christus het jou van alle sonde gereinig. Met ander woorde, as jy jou geloof in Jesus stel, word jy volkome deur God vergewe. Maar in daardie oomblik van selfveragting, lyk dit asof daardie kragtige waarheid geen verskil maak nie. Kom ons kyk na:
Romeine 5:2 Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God.
Jou geloof in Jesus het (benewens jou aanvanklike vergifnis toe jy Hom aangeneem het) jou ook toegang gegee tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.
Genade? Genade is wanneer God vir jou iets gee, wanneer Hy jou seën wanneer jy dit glad nie verdien nie. Om die waarheid te sê, genade kan net genade wees, wanneer dit onverdiend is, anders sou dit 'n aanspraak wees.
Juig, oor die genade. Juig oor die hoop op die heerlikheid van God.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.