
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Toe Ons Nog Sondaars Was
Romeine 5:6 Ja, juis toe ons nog totaal hulpeloos was, het Christus vir ons, die goddeloses, kom sterf. (NLV)
Ek wonder of jy al ooit gehoor het van "Maundy Thursday." Dit word ook soms Heilige Donderdag of Verbondsdonderdag genoem. Dit word op die Donderdag voor Paasfees gevier, en herdenk die gebeure van die dag voor Jesus se arrestasie.
Wel, vandag is daardie dag, die dag voor Goeie Vrydag wanneer ons die lyding en dood van Jesus vir mense soos ek en jy herdenk. Maar wat beteken "Maundy" eintlik?
Wel, in die vroeë 14de eeu is die woord "maundy" geassosieer met die laaste Avondmaal toe Jesus die dissipels se voete gewas het, net voordat Hy in die tuin van Getsemane deur Judas verraai is.
Die Britse monarg vier nou al baie jare lank hierdie dag deur spesiale gemunte muntstukke, aan pensioenarisse uit te deel, om die simboliese betekenis van Jesus, wat die dissipels se voete was, te herdenk.
Die betekenis van hierdie "maundy"- konsep is dat die een met ‘n baie hoër status, in 'n sekere sin afbuig na diegene met ‘n laer status om hulle te dien; om dus simbolies aan diegene wat dit nie verdien nie, iets te gee.
Dink baie mooi daaroor na: Jesus, die Seun van God, kniel neer om die stinkende, vuil voete van die twaalf dissipels te was en jy weet mos dat Judas, wat op die punt was om Hom te verraai, een van hulle was. Petrus het probeer protesteer: “U sal in alle ewigheid nooit my voete was nie!” Daarop sê Jesus vir hom: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.”
Het jy al ooit heeltemal onwaardig gevoel oor dít wat Jesus vir jou gedoen het? Wel, my vriend, dit is die kruks van die saak. Dit is die rede waarom ons môre Goeie Vrydag gaan vier.
Romeine 5:6 Ja, juis toe ons nog totaal hulpeloos was, het Christus vir ons, die goddeloses, kom sterf. (NLV)
Ek en jy was absoluut onwaardig en hulpeloos. Maar ten spyte van ons sonde en rebellie, nee; eintlik as gevolg daarvan, het God die inisiatief geneem. Terwyl ons nog swak was, terwyl ons nog sy vyande was, het Christus vir ons gesterf. Dit is nie net goeie nuus nie, dit is fantastiese nuus.
En dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.