
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Hy Lê in Jou Graf
Romeine 5:9 Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.
Ek weet nie of jy al dikwels gedink het aan wat gebeur het op die dag na Jesus se dood nie. Dit was inderdaad 'n somber dag toe sy dissipels getref is deur die tsoenami van die werklikheid van dít, wat pas gebeur het.
Terwyl die dissipels geweeklaag het, was daar ‘n doodse stilte agter daardie swaar klip, binne-in die graf. Daar lê die yskoue liggaam van Jesus, en dit was niks anders as enige ander liggaam in enige ander graf nie.
Maar weet jy, aan daardie kruis en in daardie graf het Hy die toorn van God verduur. Ja, Hy het die regmatige toorn van God teenoor die wêreld se sonde, teenoor jou sonde, teenoor myne … namens ons gedra. Hoekom? Hoe?
Omdat alle sonde gestraf moet word. Omdat óns sonde straf verdien. Die Woord van God is baie duidelik daaroor – Die loon van sonde is die dood. (Romeine 6:23). Die onwrikbare geregtigheid van God het geëis dat die prys van ons sonde betaal word. En Jesus … Jesus het daardie prys namens ons betaal. Hy het ons gered van die toorn van God wat ongetwyfeld, 'n verskriklike ding is.
Die realiteit is dus dat Hy namens my en jou in daardie graf gelê het. Ons sien in:
Romeine 5:9 Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word.
Ons, as gelowiges wat in Jesus, en die prys wat Hy met sy bloed betaal het, glo – ja, jy en ek - word hierdeur deur God aanvaar. Ons vryspraak het dieselfde betekenis as die vryspraak wat van toepassing is op ‘n misdadiger wat sy vonnis uitgedien het.
En daardie vryspraak in Christus het ons gered van die toorn van God my vriend, Hy het namens jou en namens my in daardie graf gelê. Dis goeie nuus.
En dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.