
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
‘n Versoende Lewe
Romeine 5:10,11 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
Vandag is die dag waarop ons gewag het. Die dag wat die dissipels verdwaas gelaat het. Die dag wat die geskiedenis van die mensdom totaal verander het. Die dag waarop ons vandag nog, met oorweldigende vreugde in ons harte, kan uitroep: Christus het opgestaan!
Dit is 'n vreugde om op hierdie Opstandingsondag saam met jou die Opgestane Christus te kan vier.
As ons Paasfees herdenking by die Kruis gestop het, dan sou ons net een helfte van die Goeie Nuus ontvang het. Die wonderbaarlike waarheid is dat ek en jy vergewe is, omdat Jesus deur sy offer, die prys vir ons betaal het.
Ja, dit is wonderlik, maar dit is net die een helfte van God se plan. Die ander helfte is dat, omdat Jesus die graf oorwin het, en weer opgestaan het, ons ‘n nuwe lewe, wat tot in alle ewigheid sal duur, ontvang.
Romeine 5:10,11 Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.
Sien jy wat God vandag vir ons deur die apostel Paulus sê? Hy praat van iets groots en van iets nog groter. As ons deur Jesus se dood gered is, hoeveel te meer, noudat ons uiteindelik met God versoen is, word ons dan deur sy lewe gered?
Die dood kon Hom nie vashou nie. Hy het die graf oorwin. Hy het opgestaan! En daardie opstandingslewe is nou ook ons s'n. Dag vir dag word ons deur sy lewe gered. En dit is 'n werklikheid wat tot in alle ewigheid sal voortduur. Christus het opgestaan … jy ook!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.