
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Nie Meer ‘n Slaaf Nie
Romeine 6:6 Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.
God se oorweldigende passie om mense soos ek en jy van die verskriklike mag van sonde wat al so lank ons lewens teister, vry te maak, slaan my voete onder my uit.
Ek weet nie van jou nie, maar die Paasgebeure bly vir my so ‘n onherroeplike realiteit. Ek weet die amptelike Paasviering is verby, maar die krag van wat God aan die Kruis en deur die leë graf gedoen het, behoort van nou af tot in ewigheid deur jou lewe en myne te spoel.
Dit is waarom ons die afgelope tyd gedeeltes uit God se Woord bestudeer het, en waarom ons hierdie week daarop gekonsentreer het om daardie krag regtig vas te vat. Gryp dit met albei hande vas en ontvang dit in jou lewe.
Die wonderlike oomblik wanneer jy die opstandingskrag van Christus beleef, en vir eens en vir altyd besef dat die ‘ou-ek’ finaal yskoud en so dood soos ‘n mossie is, is daar vryheid van jou sondelas.
Romeine 6:6 Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.
Is dit ‘n realiteit vir jou? Weet jy verseker, dat toe jy in Hom geglo het, jou ‘ou mens’ saam met Christus gekruisig is, sodat die mag van sonde oor jou, tot niet gemaak kon word?
Ons dink dikwels dat gehoorsaamheid aan God se Woord beteken dat ons dinge wat ons geniet, moet prysgee. Maar eintlik gaan dit alles oor die breek van die kettings wat ons gebind het - om ons vry te maak van die slawerny van daardie brutale oorheersing - die sonde.
Glo jy in Christus? Is jy seker? Dan, my vriend, kan jy hieraan vashou: Jy is nie meer verslaaf aan sonde nie. Deur die krag van God is jy in Christus vrygemaak!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.