
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Nooit Tevrede Nie
Hebreërs 13:5 Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Die wêreld wat God vir ons geskep het om te geniet, is so fabelagtig ryk en oorvloedig. Daar is miljoene plante en diere. Miljarde kleure. Dink net aan die ongelooflike diversiteit van geure in kos. Soveel verskillende ervarings om te geniet. Ja, die wêreld is ongelooflik ryk en oorvloedig.
En dink net: indien jy deesdae die middele het, kan jy binne 48 uur amper na enige plek op die planeet reis. Om dit te kroon, kan jy met 'n toestel wat net 'n paar cm by 'n paar cm is, dit alles in die palm van jou hand sien.
Maar die grootste genot wat jy kan beleef, is om God self te ken. Daarom het Hy Jesus na hierdie aarde toe gestuur om te sterf en weer op te staan vir mense soos ek en jy - sodat ons vergewe kan word en, in Jesus se eie woorde, 'n oorvloedige lewe kan lei.
Maar dan kom die versoeking van die dinge van hierdie wêreld. Net ingeval jy in die versoeking kom om deur dinge van sy skepping weggerokkel te word van God self (en wie van ons is nie) is hier ‘n waarheid waaraan jy kan vashou:
Hebreërs 13:5 Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”
Dink daaroor na. God het vir Adam en Eva gesê hulle kan van enige van die bome in die tuin eet, behalwe van één. Kyk, daar is dit - hulle kan kies uit daardie ryk oorvloed. En wat doen Satan? Hy rokkel hulle weg om te fokus op daardie één ding wat hulle nie het nie. En ons weet almal wat die gevolg daarvan was. . .
Wees dus dankbaar oor dit wat jy wel het, in plaas daarvan om jou te verknies oor dit wat jy nie het nie. Want daardie verleiding sal jou uiteindelik onuitspreeklike pyn veroorsaak.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.