
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Die Innerlike Oorlog
Jakobus 4:1 Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
Wie het rusies en argumente in hul lewe nodig? Wie geniet onenigheid? Konflik is 'n verskriklike ding wat ons van ons vrede en ons vreugde beroof. En hoe maklik is dit nie om die ander ou te blameer nie? Nou hoekom nie, dit is mos sy skuld!
Jy dink seker ek is dof, maar weet jy, ek het tot die gevolgtrekking gekom dat om iemand anders te blameer, nooit enige konflik oplos nie. Nee, nooit nie.
Wanneer ons die ander party blameer, voel ons dalk geregverdig; ons verontskuldig onsself vir die rol wat ons in die konflik gespeel het; dit gee ons dalk 'n korttermyn gevoel van verligting, maar dit los nie regtig die konflik op nie.
Een van die grootste probleme wat ons in konflik ondervind, is dat ons ons eie emosies ignoreer. Daar is net ‘n klein vonkie van konflik, en voor ons onsself kan kry, ontplof dit. Ons dink nie voordat ons reageer nie en vra onsself nie af waar hierdie rusie vandaan kom en hoekom ons so reageer nie.
En daardie twee vrae is baie goeie vrae om onsself af te vra, voordat ons weer op daardie gevaarlike pad van konflik beland.
Ons kry die antwoord in:
Jakobus 4:1 Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie?
God sê vir ons: “Wag jong, kyk na jou eie hart. Stop en dink na oor jou eie emosies. Vra jouself af watter selfsugtige begeertes veroorsaak hierdie oorlog binne-in jou, voordat dit oorspoel na jou verhouding met die ander persoon.”
Weet jy dat ons rusies en ons argumente nege uit die tien keer in ons eie harte begin? Wees dus bewus van jou eie emosies, hanteer jou eie selfsug, en jy sal baie minder konflik in jou lewe beleef.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.