
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Verdagte Transaksies
Johannes 3:20 Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.
Ons het almal dinge gedoen waarop ons nie trots is nie. Ek het, en jy het ook. Die vraag vir elkeen van ons is egter: sal ons aanhou om daardie dinge te doen, of sal ons uit die duisternis kom om in die lig te lewe?
Dit is 'n verskriklike ding wanneer ons politieke leiers verdagte transaksies aangaan. Soms sien jy persone aan bewind wat so ryk is, dat almal weet dat dit onmoontlik is dat die geld regmatig oor hulle pad gekom het. Daardie magsmisbruik, ja, daardie korrupsie ontstel ons almal.
Maar kom ons wees eerlik. Ons het self ook al verdagte transaksies aangegaan. Miskien het jy 'n mate van voordeel verkry deur oneerlikheid, of miskien het jy die volle waarheid so effe verswyg, of dalk het jy deur een of ander geheime sonde 'n ooreenkoms met die duiwel gesluit? Ons is sekerlik almal skuldig daaraan. Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom. (Romeine 3:23 NLV)
En hier lê die probleem: Wanneer ons praat van die eer waarvan ons God beroof, beteken dit dat ons God in die skande steek. En wanneer ons besig is om verdagte transaksies aan te gaan, doen ons dit in die geheim - ons bly in die duisternis, uit die lig, sodat ons oneerlikheid nie blootgelê word nie.
Johannes 3:20 Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.
Mag ek jou vandag, met die liefde van Christus, ‘n baie indringende, maar ernstige vraag vra: Met watter onderduimse transaksies is jy op die oomblik in jou lewe besig? Watter verborge sonde veroorsaak dat jy die lig vermy? Daardie sonde hou jou van God af weg. Jy weet dit baie goed en ek weet dit ook. . .
Maar God se heerlikheid skyn helderder as ‘n duisend sonne; helderder as enigiets anders in die heelal. Kom na die Lig toe.
Dit is tyd om daardie oneerlike transaksies te stop en weer in die lig te leef.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.