
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Teleurstelling en Moedeloosheid
Psalm 34:17,18 As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.
Ek weet nie van jou nie, maar ek staan elke dag met ‘n lied in my hart uit die bed uit op. ’n Nuwe dag, nuwe geleenthede … maar party dae werk dinge eenvoudig nie so fantasties uit nie.
Jy weet waarvan ek praat. Jy staan op met 'n positiewe gesindheid en dan is dit asof die lewe 'n hele vrag vol rommel op jou kop gooi, en dit stink... Ek het dan sulke goeie planne vir hierdie dag gehad!
Wel, raai wat, dinge gaan nie elke dag fantasties uitwerk nie. Ons ken die ou, ou storie, nie waar nie? Jy voel moedeloos wanneer daardie gevoel van magteloosheid en teleurstelling jou beetpak. En as hierdie negatiewe dinge te lank aanhou, tree moedeloosheid in.
In hierdie lewe gaan daar moeilikhede wees wat ons uitdaag. Kyk op wie het koning Dawid van Israel vertrou toe hy hierdie woorde neergeskryf het in:
Psalm 34:17,18 As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red Hy hulle uit al hulle benoudhede. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.
Sien jy dat God, te midde van jou probleme, daar by jou is? Wanneer jou emosies besig is om jou lewe te verwoes, wanneer teleurstelling jou jou selfvertroue ontneem, wanneer moedeloosheid dreig om jou lewe te ontspoor … is God daar, in die hitte van die stryd, met jou. Ja, by jou!
En dit, my vriend, is die goeie nuus. Die soort nuus wat ek bid dat die Heilige Gees vandag in die situasie waarin jy dit nodig het, onuitwisbaar op jou hart sal skryf. Maak dit jou eie, vind jou vrede daarin en bowenal …
Bid tot die Here, want die Here hoor.... Hy sal jou deur al jou benoudhede, gebrokenheid en moedeloosheid nie alleen laat nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.