
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Sprong in die Duister?
Johannes 12:44-46 Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.
Vir buitestaanders lyk dit na 'n riskante besigheid om in hierdie Jesus, wat beweer dat hy die Seun van God is, te glo. Die hele idee van geloof klink vir baie mense na 'n sprong in die duister. Wat dink jy?
Ek het self so gevoel toe ek destyds moes besluit of ek my lot by hierdie "Christene" gaan ingooi of nie. Wat sal Christus van my eis? Sou Hy my as 'n sendeling na die uithoeke van die aarde stuur? Dis 'n gedagte wat vir my nie baie aantreklik was nie.
En as jy al ‘n besluit geneem het om Jesus te volg, het jy ongetwyfeld ook moeilike tye beleef waarin jy gedink het: “Wat gaan aan? Wat beteken dit alles? Is dit regtig die moeite werd?” Maar weet jy, dit is omdat onsekerheid ‘n deel van die geloofservaring is. As jy per slot van rekening geweet het hoe dinge in die toekoms gaan verloop, sou jy mos nie geloof nodig gehad het nie!
Maar Jesus se plan was nooit om ons in die duister te hou nie. Inteendeel! Ons lees in:
Johannes 12: 44-46 Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.
Op watter manier het Hy dit gesê? Hy het dit uitgeroep! Wat het Hy gesê? Ek het as die lig na die wêreld toe gekom sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.
Nee, my vriend, geloof in Jesus is nie 'n sprong in die duister nie, dit is 'n stap in die Lig!
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.