God se Woord VARS vir jou Vandag

Roep Uit Tot Die Here

Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet Season 23 Episode 2442

Send us a text

Psalm 86:5,6 U is goed, Here, U vergewe altyd weer, U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. Luister na my gebed, Here gee tog ag op my smeekgebed. 

Voel jy regtig lus om met God te praat wanneer teëspoed jou vir die soveelste keer tref? Die antwoord is seker maar: nie eintlik nie. En so sit ons in moedeloosheid en kook in ons eie sop gaar, asof dít die probleem sal oplos.

Gister het ons gesels oor die realiteit, die kragtige realiteit, die bevrydende, lewensveranderende realiteit, dat Jesus na hierdie aarde gekom het om na verlorenes te soek en hulle te red. 

Vir verlore mense soos Saggeus, die tollenaar, het Jesus gesê: 

“Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is 'n kind van Abraham. Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.”

Dis wonderlike nuus … Hy soek eintlik na sondaars soos ek en jy. Ons hoef dus nooit weg te hardloop en weg te kruip in ons skaamte en in ons vrees of in ons teëspoed nie. Trouens, die absolute teenoorgestelde is waar. Koning Dawid van Israel skryf omtrent 'n duisend jaar voordat Jesus op hierdie aarde gewandel het in:

Psalm 86:5,6 U is goed, Here, U vergewe altyd weer, U is getrou teenoor dié wat na U roep om hulp. Luister na my gebed, Here gee tog ag op my smeekgebed.

Dawid se gewoonte was om na God uit te roep in sy tye van swaarkry – omdat hy altyd, deur al die ontberings en teëspoed wat hom getref het, geweet het waar sy hulp vandaan kom. Luister na my gebed, Here gee tog ag op my smeekgebed.

En weet jy? Dit is 'n goeie gewoonte. 'n Baie goeie instinktiewe gewoonte. Want God is 'n God van genade en barmhartigheid, 'n God van liefde en vergifnis. Dit is wie Hy is. Dis hoekom Hy Jesus gestuur het om na jou te kom soek. En daarom smag Hy daarna dat jy na Hom moet roep.

Soek na Hom. Hy wil gevind word.

Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.

Support the show

Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY