
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Rus In Vrede
Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
Wanneer iemand sterf, sê mense dinge soos: "Sy is na 'n beter plek toe," of "mag hy in vrede rus." En hoewel daardie afgesaagde uitdrukkings ons dalk beter laat voel, maak dit geen verskil aan die een wat dood is nie.
Die dood is iets waarmee ons almal worstel. Gedurende die afgelope tyd was ek nou betrokke by ‘n dierbare, wat nader aan die einde van haar lewe gekom het.
En wanneer ons daardie mense, wat besig is om vinnig agteruit te gaan, sien, laat dit ons nadink. Ons word intens van ons eie sterflikheid bewus. Wanneer sal my dae op hierdie aarde tot 'n einde kom? Is dit nog ver weg … of naby? Hoe sal ek dit hanteer? Hoe sal ek voel? En dan, die groot vraag: Wat kom volgende?
Dit is die gedagtes wat deur ons koppe maal.
Christene, en inderdaad Jesus self, maak hierdie dikwels ‘onpopulêre’ uitspraak … dat die enigste weg na 'n ewigheid saam met God, is om ons geloof in Jesus te plaas. Ja, aanvaar jy dat sy dood aan die Kruis jou vrygekoop het en dat jy deur sy opstanding die keuse het om 'n nuwe lewe vry van sonde vir Hom te lewe?
Hoe kan julle Christene dit beweer? Hoe kan jy ernstig glo in 'n ewige straf in hierdie plek genaamd Hel?
Die Hel vorm so ‘n kontras met die strelende geykte trooswoorde: "mag hy in vrede rus." Die Hel klink baie erger as om bloot te dink jy sal op die regte tyd jou laaste asempie saggies uitblaas. Maar dit verander nie die feit dat die Hel ‘n werklikheid is nie. Trouens, dit is die waarheid waarvoor Jesus sy lewe gegee het:
Johannes 10:28 Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.