
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
‘n Ambassadeur se Wysheid
Kolossense 4:5,6 Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.
Daar was nog altyd, en ek vermoed daar sal altyd 'n aansienlike mate van wrywing bestaan tussen mense van geloof en ongelowiges; tussen diegene wat in Jesus glo en diegene wat nie in Hom glo nie. En Christene gebruik twee teenoorgestelde en ewe verkeerde benaderings om hierdie mense te hanteer.
Een benadering is om te kapituleer, deur eenvoudig saam met die stroom te gaan om op hierdie wyse die wrywing heeltemal te vermy. Die ander benadering is om terug te baklei met diegene wat ons geloof teëstaan, deur hulle metodes en tegnieke te gebruik. Ook heeltemal verkeerd, nè?
Ek het nou die dag 'n spotprent gesien van twee ouens wat na Jesus staan en kyk waar Hy aan die Kruis hang. Die een sê vir die ander: “Wat het Hy gesê wat almal so kwaad gemaak het?” Die ander ou antwoord: "Wees lief vir mekaar". Waarop die eerste een geantwoord het: "O ek sien; dis die rede!"
En dit was wat gebeur het. Jesus het gesê: Wees lief vir God en wees lief vir mekaar! Wanneer jy dit uitleef, word jy gekruisig. Maar hoe tree jy in so ‘n konfronterende situasie op? Is daar sprake van liefde en vriendelikheid wanneer jy geloofswrywing ervaar?
Kolossense 4:5,6 Tree met wysheid op teenoor die mense wat nog buite die gemeente is. Maak die beste gebruik van elke geleentheid. Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.
Stel jou voor dat wanneer een land 'n ambassadeur na 'n ander land stuur en al wat die ambassadeur doen, is om met venynige en sarkastiese opmerkings voor ‘n dag te kom, omdat hy nie saamstem met wat die land doen nie. Dis nie effektiewe diplomasie nie, nè?!
God roep ons om as wyse ambassadeurs op te tree. As jy in Jesus glo, is jy 'n ambassadeur van Christus. Tree dus soos een op… al weet jy hulle sal jou waarskynlik nog steeds kruisig.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.