
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Die Wapenrusting
Romeine 13:12-14 Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.
Ek aanvaar dat die meeste van ons sekerlik al ‘n aksiefilm gesien het met ‘n superheld geklee in ‘n wonderlike wapenrusting, wat hom onoorwinlik maak. Ag, as ons maar net partykeer daardie uitrusting kon leen!
Ons het gister op VARS gesels oor die gevoel dat die dae soms vir baie van ons lank voel, maar dat die jare al hoe korter lyk. Met ander woorde, ons ervaar dat die tyd vinnig verbyflits.
En vandag is daar 'n onbetwisbare duisternis wat oor die aardbol kruip – oorloë en gerugte van oorloë. Daar is 'n toenemende neiging tot, en selfs 'n aanmoediging van onsedelikheid, wat dreig om sy tentakels om die lewens van selfs die vurigste volgelinge van Jesus te draai.
Ek glo met my hele hart dat God graag vandag hieroor met ons wil praat:
Romeine 13:12-14 Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.
Het jy dit gesnap? Trek die wapenrusting van Lig aan! Hoe? Deur die dade van die duisternis opsy te skuif en deur ordentlik en eerbaar op te tree.
En wat is daardie wapenrusting wat ons teen hierdie kruipende duisternis sal beskerm? Beklee julle met die Here Jesus Christus. Met ander woorde, die wapenrusting is Christus self. Jy oorwin nie die bose deur hard te probeer om 'n beter mens te word nie. Jy oorwin die bose deur nader aan Jesus te kom.
Trek die wapenrusting van Lig aan! Christus self.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.