
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Lank, Lank Gelede …
Lukas 2:5,6 Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.
Tweeduisend jaar gelede het Maria en Josef na Betlehem gegaan en die baba Jesus, is in 'n krip; in ‘n stal, gebore. Dit klink amper soos 'n sprokie.
En weet jy wat ek dink? Ek dink dit is presies hoe die duiwel wil hê ons die Kersverhaal moet sien. Ons moet dit van 'n lekker, veilige afstand as 'n mite; 'n fabel; 'n sprokie beskou. Want as hy ons kan kry om dit te doen, sal ons die hele doel mis. En as ons die hele doel van Jesus se koms na hierdie aarde mis, dan is dit verby met ons. Dan wen die duiwel.
Wat jy ook al glo, sê my, hoe beleef jy die storie van Kersfees? Raak dit jou, ontroer dit jou? Of is jy so vertroud daarmee, dat dit alledaags, ver, amper … onwerklik geword het?
Die realiteit van daardie eerste Kersfees is 'n netelige een, 'n moeilike een.
Lukas 2:5,6 Maria, sy verloofde, wat swanger was, het saamgegaan om ingeskryf te word. Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.
Maria was buite egtelik swanger. Die feit dat sy deur die Heilige Gees bevrug is, was tog ondenkbaar! Josef moes sekerlik verskillende pynlike emosies daaroor ervaar het; of hy nou die engel geglo het, wat hom die waarheid vertel het, of nie. Hulle het dae lank van Nasaret na Bethlehem gereis vir die baba, Jesus, om in plaasdiere se voerbak, gebore te word.
Daar is geen sprokieselement hier nie, net die werklikheid van God se liefde: sy liefde vir jou. Hy het sy Seun vir jou na hierdie wêreld gestuur, om jou van jou sonde te red, om jou die gratis gawe van die ewige lewe te kom gee. Dit is waaroor Kersfees werklik gaan.
En dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag
Dit is môre Kersfees. En my gebed vir jou en diegene vir wie jy lief is, is dat die wonder van God se liefde julle harte sal oorweldig. Ek bid dat julle weer opnuut daaraan sal dink dat Hy sy Seun gestuur het om vir julle te ly, om vir julle te sterf en om sodoende vir julle sonde te betaal. Maar, my vriend, Hy het uit die dood opgestaan om julle 'n nuwe lewe, 'n ewige lewe, te gee. Want … dit is Kersfees.