
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Die Here Maak Jou Innerlik Sterk
Efesiërs 3:16,17 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
Het jy al opgelet hoe dit wil voorkom asof party mense geestelike krag het en vasbeslote is om deur die storms en orkane van die lewe te veg, terwyl ander soos hulpelose kurkproppe heen en weer op die see geslinger word?
Ons het die laaste paar dae gesels oor God se hulp wanneer daardie donker dae van tyd tot tyd, onvermydelik, oor ons lewens toesak. Maar, dis moeilik om sy beloftes te glo, wanneer dit voel asof die lewe sy rug op ons gedraai het.
Want wanneer ons emosies met ons rondomtalie speel, is dit amper asof ons gestuit word deur iets wat verhoed dat ons die lewensreddende hulp wat God bied, ontvang. Miskien is dit waarom die apostel Paulus vir sy vriende die volgende gebid het in:
Efesiërs 3:16,17 Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
Wat 'n wonderlike gebed! En dis een wat ek vandag ook vir jou wil bid; dat God die vensters van die hemel sal oopmaak en sy krag oor jou sal uitstort, sodat jy onder alle omstandighede innerlik sterk sal wees. En ek weet dat Hy getrou is om jou al die krag te gee, wat jy nodig het, wanneer Hy jou vul en met sy Heilige Gees deurdrenk.
Mag ons Here Jesus Christus deur die geloof in jou hart woon. Mag Hy jou, tot sy eer, sterk maak deur jou geloof in Christus!
Want dit is sy belofte, sy Woord. Vars … vir jou … vandag.