
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Wanneer Jy Net Sommer Weet
Psalm 138:7,8 As ellende op my toesak, sal U my bewaar van die woede van my vyande. U steek u hand uit en red my deur u krag. Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie. Moenie die werke van u hande laat vaar nie. (NLV)
Het jy al ooit gewonder hoekom God, in Sy wysheid, dieselfde ding oor en oor in sy Woord sê? Dit is 'n vraag wat ek myself al dikwels afgevra het. Hoekom doen Hy dit?
Ek kan nie tel hoeveel keer my pa my as kind nie op my plek gesit het, as ek die takies waarvoor ek verantwoordelik was, afgeskeep het. Sy woorde was altyd: As iets die moeite werd is om te doen, my seun, is dit die moeite werd om dit goed te doen. Hy het dit seker honderde kere by my ingedril.
Vandag, meer as 'n half eeu later, bly daardie getrouheid en noukeurigheid en daardie begeerte om in alles wat ek doen my bes te lewer, diep by my ingeburger. Dit is deel van wie ek is, en dis te danke aan dít wat my pa, terwyl ek in die huis was, tot vervelens vir my gesê het.
Miskien is dit waarom God so dikwels in die Bybel van sy getrouheid, en sy standvastige liefde praat. Ons hoor dit telkens in die Psalms by koning Dawid:
Psalm 138:7,8 As ellende op my toesak, sal U my bewaar van die woede van my vyande. U steek u hand uit en red my deur u krag. Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie. Moenie die werke van u hande laat vaar nie. (NLV)
Wanneer ons deur moeilike situasies gaan, is ons eerste instink om paniekerig te raak en self te probeer planne beraam. Maar elke keer as ons probleme ondervind, wil God ons van sy getrouheid verseker. Hy wil ons daardeur leer om op sy onfeilbare liefde te vertrou, sodat dit uiteindelik deel van ons menswees kan word.
Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.