
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Net God Weet
Lukas 12:6,7 “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
Het iemand jou al tot die dood toe verveel deur vir jou iets in soveel detail te vertel dat jy kon slange vang? Op 'n stadium … het jy totaal alle belangstelling verloor.
Sommige mense het baie lang asems, nie waar nie? En kom ons wees eerlik: ons het baie van ons eie dinge om te doen; ons eie eindelose lysies om te hanteer, sonder om na hulle sinnelose gebabbel te luister.
Nouja, dink jy nie dat God ook baie besig moet wees nie? Kyk net na al die dinge in die wêreld wat Hy moet doen! Dink jy dat Hy in die klein dingetjies van jóú lewe sal belangstel? Dit kan tog nie van Hom verwag word nie!
Dit sal nogal hartseer wees, want die dinge wat in ons lewens aangaan, maak regtig vir ons saak. Al daardie detail – ons verhoudings, ons gevoelens, ons finansies, ons gesondheid, ons families, ons vriende, ons probleme – al daardie goed, is die goed waaruit ons lewens bestaan.
Wat sê jy… is dit belangrik vir God, of nie? Maar Jesus kom en beantwoord daardie vraag duidelik en eenvoudig in taal wat ek en jy kan verstaan...
Lukas 12:6,7 “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie. Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”
Weet jy hoeveel hare jy op jou kop het? Nee, maar God weet. Met ander woorde, Hy weet alles van jou, elke klein detail, elke stukkie inligting wat ander mense as onbenullig sal beskou.
Hoekom? Want Hy het jou liewer as wat jy ooit kan weet.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.