
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Beskerming en Seën
Psalm 84:12 Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.
Die meeste mans hou daarvan om hulle gesinne gelukkig te maak: hul vrou, hul kinders en in my geval, ook my kleinkinders. Dit is net so 'n plesier om diegene te kan seën vir wie ons die liefste is. Maar daar is iets anders wat mans ook graag wil doen, iets wat uit 'n baie diep en sterk instink kom.
God het in sy wysheid mans fisies sterker as vroue en beslis as kinders gemaak. Hierdie krag is ongelukkig deur die jare dikwels op die verkeerde manier gebruik - in baie gevalle, op verskriklike maniere.
Vandag nog bly huishoudelike geweld, die onderwerping van vroue - hul verdrukking in baie gevalle - 'n plaag op hierdie aarde. Trouens, op baie plekke is daardie verskriklike dinge aan die toeneem.
Maar wanneer mans hul krag op die regte manier gebruik - op 'n eerbare manier gebruik - sal hulle hul gesinne nie slegs tot seën wees nie, maar ook beskerm en hulle veilig hou. En daardie instink om te beskerm is iets wat, sonder twyfel, van God self kom.
Psalm 84:12 Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie.
Ons vra al te dikwels vir God vir sy seëninge. Dis goed en reg. Hy seën ons met elke goeie gawe, wanneer jy Hom eer en wanneer jy doen wat Hy sê. Maar moet nooit vergeet, dat Hy in die eerste plek jou beskermer is nie; Hy is jou veilige hawe. Ons glorieryke God is magtig om te red.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.