
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Altyd Getrou
Psalm 138:8 Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie. Moenie die werke van u hande laat vaar nie. (NLV)
Ek het onlangs op 'n belaglike artikel afgekom waarin 'n vrou die voordele van 'n oop huwelik ophemel. Dit is blykbaar 'n huwelik waar sy en haar man albei vry is om met ander mense uit te gaan en saam te slaap!
Mense is deesdae, wanneer iemand praat van "tradisionele gesinswaardes" vinnig om te dink: "O aarde tog! Hier is 'n outydse swaap wat die horlosie na die 1950's wil terugdraai.”
Is jy deel van 'n gesin wat werk soos God dit oorspronklik bedoel het om te werk? Ja, ek weet, dit is normaal dat daar soms wrywing tussen liefdevolle, onvolmaakte mense voorkom, maar ‘n gesin wat God se plan volg, is tot groot seën vir almal.
En die ding wat jou deur daardie onstuimige situasies dra, of dit nou ernstig of onbenullig is, is die getrouheid van elke familielid aan die ander – en ons praat veral van die eksklusiewe getrouheid tussen man en vrou. Dit is ontstellend dat mense kan sê dat die sogenaamde “oop huwelik" van ontrouheid, nie die band van liefde sal ondermyn en vernietig nie!
Trouens, as jy daaroor nadink, is onwrikbare getrouheid die sleutel tot liefde; dit is wat die gesin deur voor- en teëspoed bymekaar hou. En die bron van daardie getrouheid is God self.
Psalm 138:8 Here, U sal u doel met my bereik, want u troue liefde, Here, ken geen einde nie. Moenie die werke van u hande laat vaar nie. (NLV)
Dit maak nie saak dat jy van tyd tot tyd effens struikel nie. God se beloftes is waar. Sy getrouheid teenoor jou sal vir ewig voortduur. Watter stryd jy ook al in die gesig staar, weet dit – jou God is getrou. Altyd.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.