
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Dit is Waarvoor ons Bid (2)
Kolossense 1:9-10 Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.
Die verskil tussen reg en verkeerd, goed en sleg, is redelik duidelik, nie waar nie? Ja, dit is … totdat die lewe ingewikkeld raak; totdat dinge deurmekaar raak; totdat die lyne vervaag en jy skielik nie meer seker is watter rigting jy moet inslaan nie.
Komaan, wees eerlik. Wanneer dinge in jou lewe ingewikkeld, en onseker raak, voel dit asof dit net jy is wat so voel. Dit lyk asof al die ander mense besig is om loshande deur die lewe te vlieg en dat dit net jou lewe is wat 'n gemors is. Weet jy, dit is eenvoudig nie waar nie, maar dis hoe dit voel.
En dit is in daardie situasies waar ons dikwels onder stres en sonder insig verkeerde keuses maak. Wanneer laas het jy jouself in so ‘n situasie bevind? Dink mooi, wanneer jy die saak op die keper beskou, oor watter besluite wat jy destyds geneem het, is jy vandag spyt?
As ons kyk na Paulus se gebed vir sy vriende in Kolosse waarna ons gister begin kyk het, kry ons ook 'n oplossing. Hier is die antwoord wat ons, die volgende keer wanneer ons in daardie situasie is, sal keer om daardie selfde swak keuses te maak. Dit is wat hy gebid het...
Kolossense 1:9-10 Daarom, van die dag af dat ons van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.
Dit is wonderlik hoe jy soveel duidelikheid kry wanneer jy bid. Ewe skielik is jy weer uit jou toestand van vertwyfeling. Ewe skielik is jy weer seker wat God van jou wil hê. Ewe skielik … begin jou lewe weer goeie vrugte voortbring soos jy groei in jou kennis van God.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.