
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Is jy Gek?
Matteus 7:13-14 “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
Dit is nooit 'n lekker gevoel om die swaan in die eendedam te wees nie; die een wat nie inpas nie. Hoe laat dit jou voel, as jy die een is wat anders is, die een wat soos 'n seer vinger uitstaan?
Ek was tydens my kinderjare daardie eenkant-kind. By die huis het ons een taal gepraat, by die skool 'n ander. Ek was leergierig en oorgewig, die ander kinders was normaal. Ek het klavier gespeel, hulle het sport gespeel. Ek het daardie gevoel van ‘anders te wees’ gehaat. Hoe was jou kinderjare?
Nou kom, laat ons die saak tot op die been oopvlek. Kom ons sê vir 'n oomblik dat jy in Jesus glo. Nee wag, nie net glo nie, maar dat jou lewe daarvan getuig dat jy Hom volg. Maar jy weet dat mense jou deesdae skeef aankyk, as jy dit sê. Mense dink jy is gek. Komaan man, kom by, doen wat die ander ouens doen. Die wêreld het aanbeweeg. Moet ons verbaas wees as mense ons as eksentriek beskou? Jesus self het dit so gestel:
Matteus 7:13-14 “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.”
Om Jesus te volg, het nog altyd beteken om teen die stroom te gaan. Of soos C.S. Lewis eenkeer gesê het: Wanneer die hele wêreld in die rigting van 'n afgrond hardloop, lyk dit of die een wat in die teenoorgestelde rigting hardloop, die kluts kwyt geraak het.
Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min.
Volg Jesus ten alle koste.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.