
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Moenie die Stelsel Blameer Nie
Johannes 8:12 Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Weet jy, ons dink nie te dikwels daaraan nie, maar die wêreld – my wêreld en jou wêreld – word oorheers deur mensgemaakte stelsels. Ekonomiese stelsels, politieke stelsels, sosiale stelsels, gesondheidstelsels, voedselproduksie- en verspreidingstelsels, ensovoorts. En al is hulle noodsaaklik, is baie van hulle nie tot ons voordeel nie.
Dit het al 'n cliché geword, dat die rykes aanhou ryker word en die armes aanhou armer word. Maar is dit werklik waar? Wel, volgens Oxfam, besit die 1% rykste mense in die wêreld netsoveel as die res van ons almal saam.
Nee, ons stelsels sorg nie ewegoed vir almal nie. Dit is 'n feit. En wat ons dus geneig is om te doen, is om die stelsel vir ons ellende te blameer. As ons net 'n meer regverdige ekonomie gehad het, 'n beter regering, eerlike politici, 'n meer toeganklike en doeltreffende gesondheidsorgstelsel ...
Maar wat van ons eie bydrae tot die duisternis wat so effektief oor die wêreld kruip? Wat kan ons doen aan die manier waarop ons lewe, om in ons eie konteks 'n verskil te maak?
Johannes 8:12 Op 'n ander keer het Jesus vir die mense gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.”
Soos Voddie Baucham, die Amerikaanse skrywer en opvoeder, onlangs gesê het: Die verskriklike dinge wat ons in ons eie kultuur raaksien, is nie omdat ons verkeerd stem nie. Ons sien verskriklike dinge in ons kultuur omdat mense lief is vir die duisternis eerder as die lig.
Hou op om die stelsel te blameer. Volg Jesus. Laat jou lig skyn.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.