
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Streef na Dié Drie Dinge
Spreuke 11:3 Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers; die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang.
Ons word so maklik beïndruk deur die sukses van ander mense. Dink nou aan suksesvolle mense soos die sakeman en belegger Warren Buffet. Hy is gebore in ‘n onnoemenswaardige stad, Omaha, Nebraska. Maar weet jy, hy besit tans sowat 140 miljard Amerikaanse dollar, wat hom die negende rykste persoon ter wêreld maak. Nie te sleg nie, nè?
Nouja, ek was al in Omaha. Dit is nie ‘n besonder interessante plek nie. Omaha het 'n bevolking van minder as 'n halfmiljoen; dis ‘n tipiese klein, Amerikaanse stad. En tog het dit miskien een van die suksesvolste beleggers in die ganse mensgeskiedenis opgelewer.
Maar weet jy, Warren Edward Buffet, die voorsitter van die beleggingsfirma, Berkshire Hathaway, is nie jou tipiese luidrugtige, ryk seun nie. Hy is slim, hy is nederig en hy beskik oor baie wysheid. Hy het eenkeer gesê: Ek verwag drie dinge in ’n mens – intelligensie, energie en integriteit. As hy nie die laaste een het nie, steur ek my nie eers aan die eerste twee nie.
Spreuke 11:3 Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers; die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang.
Suksesvolle mense is waarskynlik intelligent op hul eie besondere wyse; en energiek en passievol oor wat hulle doen. Maar tensy dit deur eerlikheid, ordentlikheid en integriteit gekenmerk word, sal dit tot hulle ondergang lei.
So, hoe gaan dit met jou as mens? Jy het ongetwyfeld jou besondere vermoëns en passies, maar sê my, is daar agter hulle, agter die fasade, diep in jou hart, integriteit? Kom ons word ernstig hier: Hoe eerlik, hoe ordentlik, hoe betroubaar is jy wanneer niemand jou kan sien nie?
Want: Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers; die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.