
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Hoe Om Mense te Behandel
Johannes 15:12-13 Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.
Die meeste van ons kom seker daagliks met 'n hele paar mense in aanraking. By die werk, by die huis, wanneer ons openbare vervoer gebruik, op die paaie, in die winkelsentrum... Selfs wanneer jy alleen is, dink jy beslis aan ander mense. So, wat dink jy oor hulle? Hoe behandel jy hulle? En hoe gereeld wonder jy oor hoe jy hulle beïnvloed het? Vir die meeste van ons sal die antwoord wees: Ag nou ja, ek dink nie so dikwels aan hulle nie, en my invloed is seker maar betekenisloos.
Jy voel goed wanneer mense jou goed behandel. Maar, wanneer hulle jou sleg behandel, wek dit allerhande negatiewe emosies en reaksies. So, ons dink baie beslis oor hoe hulle óns behandel, maar nie so dikwels oor hoe ons húlle behandel nie. Dis maar hoe dit gaan...
Laat ek jou vra, dink gou net aan die laaste drie mense met wie jy gister of vandag kontak mee gehad het; hoe het jy hulle behandel? Hoe dink jy het jy hulle laat voel? Hoe dink jy voel hulle oor jou as mens? Wat dink hulle as húlle aan jou dink?
Ek weet, ek vra vandag baie vrae ... maar moenie verskonings maak nie! Want weet jy, dit is die tipe vrae wat ons onsself móét afvra, nie net ná die tyd nie, maar in die aanloop tot ons interaksie met ander persone. Hier is hoe Jesus oor hierdie verhouding met jou medemens voel:
Johannes 15:12-13 Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet. Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.
Die kern van die saak? Behandel ander asof Jesus vir hulle gesterf het ... want Hy hét vir hulle gesterf.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.