
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Opregte Liefde
1 Petrus 1:22 Julle is van julle sondes gereinig toe julle die waarheid van die Goeie Nuus aanvaar het. Julle kan mekaar dus as medegelowiges regtig liefhê. Daarom moet julle sorg dat julle mekaar van harte liefhet, al vra dit inspanning. (NLV)
Soveel van die venynigheid wat ons deesdae rondom ons beleef, spruit uit 'n diepgesetelde, trotse oortuiging dat "ek die enigste een is, wat reg is." Jy kan nie 'n koerant optel sonder om te lees van een groep wat beledigings en kritiek na ander slinger nie.
Natuurlik is daar iets soos objektiewe waarheid; objektiewe reg en verkeerd. Kyk na die bose debat tussen die mense wat vir vroue se sogenaamde "voortplantingsregte" stry en dié wat pro-lewe is. As ons objektief na die saak kyk; na 'n onbevooroordeelde standpunt gebaseer op feite en verifieerbare bewyse, eerder as na persoonlike gevoelens of opinies, moet ons erken, dat dit nie reg kan wees om die lewe van 'n ongebore kind te neem nie. Kan ons?
Tog word argumente te dikwels aangevuur deur trots … my idees is meer korrek as joune... En vir my om te wen, moet jy verloor. Dis hoe dit werk.
Wat egter regtig lelik is, is om te sien hoe Christene iemand wat van hulle verskil, met die Bybel oor die kop slaan. Dis baie hartseer om te sê, maar te veel Christene doen dit … en hoe kan dit moontlik reg wees?
Kyk wat die apostel Petrus aan vervolgde Christene sê:
1 Petrus 1:22 Julle is van julle sondes gereinig toe julle die waarheid van die Goeie Nuus aanvaar het. Julle kan mekaar dus as medegelowiges regtig liefhê. Daarom moet julle sorg dat julle mekaar van harte liefhet, al vra dit inspanning. (NLV)
Ja, my vriend, leef jou lewe in reinheid; gehoorsaam God se waarheid - selfs wanneer die res van die wêreld nie met jou saamstem nie. Maar doen dit met liefde; liefde vir diegene wat met jou saamstem en liefde vir diegene wat van jou verskil. Want waarheid sonder liefde is nie net lelik nie, dit is eenvoudig verkeerd!
Julle kan mekaar dus as medegelowiges regtig liefhê.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.