
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Onverdiend, Onbeperk
Efesiërs1:7-8 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.
Daar is twee soorte vergifnis in hierdie wêreld. Die eerste soort is die een wat jy ontvang wanneer jy jou fout regstel. Maar dan is daar die vergifnis wat vryelik gegee word, ten spyte van die feit dat, om watter rede ook al, jy dalk nie kan doen wat nodig is om die persoon, wat jy te nagekom het, te vergoed nie. En sonder om vir ‘n oomblik te dink, besef ons die tweede een is baie, baie moeiliker, as die eerste een.
Ja, dis verskriklik moeilik om ‘n persoon te vergewe wat nie kan vergoed, of die skade wat hulle aangerig het, kan herstel nie, nè? Wanneer laas het jy jouself in daardie posisie bevind? Dink ‘n bietjie terug. Kon jy daardie persoon se skuld werklik vergewe?
Stel jou dan voor hoe dit vir God moet wees ... biljoene mense wat deur die eeue verkeerde dinge gedoen het; biljoene mense wat op een of ander manier hulle rug op Hom gedraai het; terwyl net 'n fraksie van hulle, hoed in die hand, teruggedraai het en Hom gevra het om hulle vir die onvergeeflike dinge te vergewe.
Hoe moeilik moet dit vir Hom wees om diegene te vergewe wat nie sy vergifnis kan verdien nie. En terloops, niemand van ons kan nie, want die standaard van 'n perfekte God is volmaaktheid ... en dit is 'n standaard wat ek en jy nooit kan bereik nie. En tog …
Efesiërs 1:7-8 Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het.
Die omvang van dít wat God vir ons gedoen het, is onbegryplik. Hy het die prys betaal deur die hoogste offer te bring, sodat ek en jy volkome vergewe kan word. Dis vergifnis – onverdiend … onvoorwaardelik.
En dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.