God se Woord VARS vir jou Vandag

Net Omdat Jy Kán …

Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet Season 25 Episode 2962

Send us a text

Spreuke 12:18 Daar is mense wat dinge sal sê wat seermaak. ’n Wyse mens se woord bring eerder genesing. (NLV) 


Dit lyk vir my of daar twee kategorieë mense in hierdie wêreld is. Diegene wat slim genoeg is om stil te bly en om hulleself te gedra wanneer iets onverwags gebeur. En diegene wat nie kan briek aandraai nie, wat dikwels, tot hul eie nadeel, die eerste ding wat in hul kop kom, uitblaker.

En ek moet my kop in skaamte laat sak en erken dat ek natuurlik in die tweede kategorie val. As jy al 'n rukkie na VARS luister, het jy dalk al agtergekom dat ek maklik kommunikeer. Dit is vir my tweede natuur.

Maar ongelukkig het die gawe om wel ter tale te wees, 'n lelike sy. My woorde kan iemand se voete op dertig treë onder sy lyf uitslaan. My skerp tong het by talle geleenthede volwasse mans verneder en letterlik tot trane gedryf … iets waaroor ek vandag baie berou het.

Hoe lyk jou rekord? Hoe geneig is jy om, sonder om te kik of te mik, gruwelike dinge te sê; dinge wat soos dolksteke in die siel van die ander persoon is; dinge wat julle verhouding ondermyn, selfs vernietig? Dink aan die laaste keer wat jy sonder om die saak eers goed te bedink, presies dít gedoen het? Hoe voel jy nou daaroor; noudat ons daaroor praat; noudat ons dit aan die lig gebring het?

Spreuke 12:18 Daar is mense wat dinge sal sê wat seermaak. ’n Wyse mens se woord bring eerder genesing. (NLV)

Net omdat jy ‘n gedagte in jou kop kry, beteken dit nie dat dit by jou mond moet uitkom nie. En vir diegene wat vinnig is met woorde en vinnig is om 'n verpletterende antwoord te gee, onthou: net omdat jy kán, beteken dit nie dat jy móét nie.

Wanneer jy praat sonder om mooi oor ‘n saak te dink, veroorsaak dit dat jou woorde soos 'n mes kan sny. ‘n Gelowige se woorde bemoedig ander en gee hulle moed vir die lewe.

Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag. 

Support the show

Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY