God se Woord VARS vir jou Vandag

Die Here is Getrou

Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet Season 25 Episode 2963

Send us a text

2 Tessalonisense 3:3 Maar die Here is getrou! Hy sal julle sterk maak en van die Bose bewaar. (NLV) 


Dit is maklik om so baie dinge as vanselfsprekend te aanvaar. Neem byvoorbeeld jou vyf sintuie – reuk, smaak, sig, tas en gehoor. Stel jou voor as jy een daarvan verloor het. Of beter nog: stel jou voor dat jy twee daarvan verloor het - kom ons sê: sig en gehoor. Ewe skielik is jy blind en doof. Hoe sal jou lewe dan wees?

Helen Keller is op 27 Junie 1880 in Tuscumbia, Alabama, gebore. Op 19 maande het sy 'n siekte opgedoen wat haar doof en blind gelaat het. Maar met die hulp van haar toegewyde onderwyser, Anne Sullivan, het Helen geleer om met gebaretaal te kommunikeer en later ook om te lees en te skryf.

Sy het in 1904 aan die Radcliffe College gegradueer en die eerste gesig- en gehoorgestremde persoon geword wat 'n BA-graad verwerf het. Hierna het Helen 'n bekende skrywer en dosent geword. Sy was ook ‘n aktivis vir mense met gestremdhede, vroue se stemreg en werkersregte.

Wonderlik, nè? Maar sonder Anne Sullivan, sonder haar toewyding aan Helen, haar opofferings, haar getrouheid … sou niks daarvan ooit moontlik gewees het nie. Jy sien nie deesdae baie dikwels sulke onbaatsugtige optrede nie, sien jy?

2 Tessalonisense 3:3 Maar die Here is getrou! Hy sal julle sterk maak en van die Bose bewaar. (NLV)

Nouja, as ons dink dat Anne Sullivan se onselfsugtige diens ongelooflik was, is God se getrouheid baie groter as enigiets wat enige mens ooit vir jou kán, of sál doen. Hy het dit bewys, toe Hy aan die kruis gesterf het; toe Hy sy lewe vir jou gegee het.

Hy is lief vir jou. Hy het die pad vir jou voorberei. Hy is elke tree van die pad met jou.

Omdat God getrou is, sal Hy julle geloof versterk en julle ook teen die Bose se aanvalle beskerm.

Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag. 

Support the show

Enjoying The Content?
For the price of a cup of coffee each month, you can enable Christianityworks to reach 10,000+ people with a message about the love of Jesus!
DONATE R50 MONTHLY