
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Dink Verder as Vandag
Filippense 3: 19 -21 Ewige vernietiging is hulle uiteinde, liggaamlike behoeftes is hulle god en skandelike dinge is hulle trots. Al waaraan hulle dink, is aardse dinge. Ons, daarteenoor, het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie. Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder sy gesag bring.(NLV)
Hoe voel jy wanneer oënskynlik bose mense suksesvol is, maar diegene wat probeer om goed te doen, nie net misluk nie, maar as gevolg daarvan, ly? En wanneer dit met ons gebeur, is daar ‘n baie groot versoeking om opstandig te word.
Lance Armstrong, die Amerikaanse fietsryer, het vroeg in sy loopbaan baie belowend gelyk en 'n paar groot wedrenne gewen voordat hy in 1996 met testikulêre kanker gediagnoseer is. Hy het herstel en dapper voortgegaan om die gesogte Tour de France sewe opeenvolgende kere van 1999 tot 2005 te wen. Toe hy egter skuldig bevind is op die aanklag van die gebruik van 'n verbode middel, is hy van al sy titels gestroop en geheel en al uit professionele fietsry verban.
Stel jou nou voor dat jy een van die fietsryers is wat jaar na jaar die uitmergelende Tour de France ry, net om geklop te word deur iemand wat reeds ‘n ruk lank onder verdenking vir die gebruik van prestasie-verbeterende dwelms, is. Wat doen jy? Bly jy dwelm-vry en bly jy verloor, of begin jy dieselfde dwelms gebruik om mededingend te wees?
Wel, dit hang af van wat vir jou belangrik is. Armstrong was bekoor deur sy korttermyn roem. Die apostel Paulus het oor mense met daardie soort ingesteldheid gesê:
Filippense 3:19-21 Ewige vernietiging is hulle uiteinde, liggaamlike behoeftes is hulle god en skandelike dinge is hulle trots. Al waaraan hulle dink, is aardse dinge. Ons, daarteenoor, het ons burgerskap in die hemel. Van dáár verwag ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser. Hy sal ons vernederde liggame verander in liggame met goddelike heerlikheid, soos sy eie. Hiervoor sal Hy dieselfde krag gebruik as dié waarmee Hy alle dinge onder sy gesag bring. (NLV)
Daar is soveel meer aan die lewe as korttermyn sukses. Dink verder as die hede, want Jesus het vir jou gesterf en opgestaan om vir jou 'n ewige heerlikheid te gee, ‘n ewigheid wat ons nie nou kan sien nie en wat ons onsself nooit eers kan voorstel nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.