
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Oorwin Finansiële Stres (2)
Spreuke 21:5 Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.
Opskrif na opskrif vertel ons dat finansiële druk lewens ruïneer. En hoe meer ons oor die finansiële krisis hoor, hoe meer druk plaas dit op ons.
Ek het nou die dag 'n opskrif gesien: Gewone werkers kan nie hul huur bekostig nie. Die artikel het gepraat van die feit dat selfs onderwysers, polisiemanne en -vroue, verpleegsters; ja, dis professionele persone waarvan hulle praat, nie van rykes nie, wat meer as die meeste ander mense verdien, is genoodsaak om hul inkomste uit ‘n tweede of ‘n derde bron aan te vul, net om te oorleef.
Stel jou dus voor hoe die werkloses en diegene met 'n klein pensioen sukkel. Dit is die werklikheid wat ons in die gesig staar. Maar verstaan my asseblief mooi, dít wat ek gaan deel, is nie bedoel om kitsoplossings te gee nie.
Die probleem word vererger omdat bitter min mense, ongeag waar hulle op die finansiële spektrum is, hulle finansies verantwoordelik bestuur en selfs 'n eenvoudige begroting saamstel en daarby hou. En in hierdie moeilike finansiële tye kan dit belangriker wees as in die verlede.
Spreuke 21:5 Wat hardwerkende mense beplan, is nuttig, maar elkeen wat oorhaastig is, stuur af op gebrek.
My vriend, jy moet jou geldsake baie mooi deurdink, veral wanneer geld skaars is. Dit begin met ‘n eenvoudige begroting. Maar groter finansiële besluite moet baie, baie deeglik deurdink word.
Onthou, wanneer jy beplan om ‘n motor te koop, beteken die koste van ‘n nuwe motor nie slegs die prys wat jy daarvoor betaal nie. Vra jouself vooraf: kan ek al die dinge soos die maandelikse terugbetalings, brandstof, versekering, registrasie, diensfooie ens. … bekostig?
Ek weet dit klink eenvoudig, maar as jy nog nie begin het nie, gaan sit rustig met ‘n stuk papier en doen iets daaromtrent. Want … noukeurige beplanning lei tot wins. Om te vinnig op te tree, lei tot armoede.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.