
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Moenie van Jesus ‘n Mengeldrankie Maak Nie
Johannes 6:14-15 Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.
Weet jy dat daar deur die eeue heen en, inderdaad vandag nog, in die naam van ‘Godsdiens’, onnoembare gruwels gepleeg word? Dit is ‘n feit. So hoe word iets wat bedoel is om goed te wees, uiteindelik boos?
Kom ons gebruik die Christene se gedrag as ‘n voorbeeld van hoe iets kosbaar, boos geword het. Tydens die Kruistogte, wat in 1096 begin het, en twee eeue lank geduur het, het hulle tussen 'n paar honderdduisend en 'n paar miljoen mense doodgemaak.
Die doel was om die Heilige Land terug te eis van Moslem-beheer en om ‘n veilige deurgangsroete vir Christen-pelgrims op pad na heilige plekke, te verseker. Maar kyk teen watter prys het dit gebeur! Wat het veroorsaak dat dinge so handuit geruk het?
Histories is bewys dat wanneer mense probeer het om die boodskap van die Evangelie van Jesus Christus te meng met 'n ander agenda, gaan dit nie meer oor die Evangelie nie, maar oor iets heel anders. Ja, dit kan gaan oor iets soos: 'n sosio-politieke ideologie, nasionalisme, morele meerderwaardigheid, die oplegging van Bybelse wette op sekulêre nasies, die afdwing van Christelike motiewe en praktyke op onwillige deelnemers ... En wat gebeur? Christene sleep die Naam van Jesus Christus deur die modder wanneer die dinge verkeerd loop; wanneer dit boos word.
Maar hierdie idee van Jesus-plus iets anders, is niks nuuts nie. Mense wou dit van die begin af hê.
Johannes 6:14-15 Toe die mense die wonderteken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is werklik die Profeet, die Een wat na die wêreld toe moes kom.” Toe Jesus merk dat hulle Hom met geweld wil kom koning maak, het Hy verder die berg op gegaan, Hy alleen.
Die mense se agenda was beslis anders as Jesus s’n. Hoe het Jesus gereageer? Hy wou Hom nie deur mense van koers af laat bring nie. Daar is 'n kragtige boodskap daarin vir ons, nè?
Moenie die Evangelie van Jesus met enigiets anders meng nie - nie met voorvaders, heiliges, materialisme, politiek, nasionalisme, of wat ook al nie. Want wanneer jy probeer om Hom die gelukbringer van jou saak te maak … sal Hy vertrek en na die heuwels gaan.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.