
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Vereer die Here met Alles wat Jy Besit
Spreuke 3:9 Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes.
Miskien het jy my dit al hoor sê, maar ek gaan dit vandag weer sê, want dit is so ongelooflik belangrik. In hierdie lewe is druk onvermydelik. Stres aan die ander kant, is heeltemal opsioneel. Een van die grootste vorms van druk wat ons kan ondervind, is finansiële druk. Is jy gestres oor jou finansies?
Jy kan deesdae skaars ’n koerant optel of na ’n nuusbulletin luister sonder om gekonfronteer te word deur finansiële druk waaronder so baie mense verkeer. Ja, hulle praat van inflasie, stygende rentekoerse en baie moeilike besluite wat geneem moet word. Mense voel desperaat wanneer dinge begin knyp.
Daar was ook tye in my lewe wat ek eerlikwaar nie genoeg geld gehad het om kos vir volgende week te koop nie. Dit is 'n verskriklike gevoel. En namate sulke finansiële druk toeneem, namate jy dit aan jou lyf begin voel, hoe hoër styg jou stresvlakke. So, wat doen jy wanneer jy breekpunt bereik?
Luister na die raad wat koning Salomo, aan sy seuns gegee het:
Spreuke 3:9 Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes.
In 'n tyd toe dit broekskeur gegaan het met my finansies, was my eerste prioriteit om vir God se werk te gee, voordat ek enige ander uitgawes aangegaan het. Ek het nie veel gehad om te gee nie, maar ek het gegee.
Nee, my vriend, my finansies het nie oornag magies verbeter nie. Die druk was steeds daar. Maar die stres het begin verdamp, want soos ek gesien het hoe God dag vir dag vir my voorsien, het my vertroue in Hom begin groei.
Druk is onvermydelik. Stres is opsioneel.
Vereer die Here met alles wat jy besit. Gee vir Hom die beste van jou oes.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.