
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Geen Verskonings
Kolossense 4:6 Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.
Ons kan oor ‘n magdom van redes knorrig raak. ’n Gebrek aan slaap, lae bloedsuiker, honger, stres, onopgeloste woede, ongeregtigheid, konflik... Het jy opgelet dat selfs slegte weer ons knorrig kan maak? En wanneer jy knorrig is, kan die woorde wat by jou mond uitborrel, nogal lelik wees.
Het jy al ooit ervaar hoe iemand uit die bloute met ‘n string beledigings op jou losgetrek het? Daardie woorde het jou seergemaak, dit was soos pyle wat op jou afgevuur was. En dit was onvermydelik dat jy dit persoonlik opgeneem het, nè? En boonop is dit ook nie iets wat jy sommer maklik vergeet nie. Trouens, dit kan julle hele verhouding permanent verander. En as jy dít toelaat om te gebeur, sal dit verander hoe jy jouself sien; jou gevoel van waarde verminder. Ja, dit kan jou selfbeeld knou.
As jy logies daarna kyk, besef jy dat daardie beledigings niks anders as 'n simptoom van die norsheid van die ander persoon is nie. Dit is regtig hartseer as jy so daarna kyk.
Kolossense 4:6 Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.
Jou woorde moet gevul wees met vreugde, plesier en goeie maniere. Dit moet liefdevol en goedhartig wees … ‘n soort van gratis geskenk. En onthou om ‘n bietjie liefde by te voeg. Liefde verander die atmosfeer. Dit verbeter die verhouding, dit doen nie afbreuk daaraan nie.
Dus, soos iemand dit onlangs gestel het: 'n Slegte bui is nooit 'n verskoning om afbrekende woorde te gebruik nie. Nooit nie. Buie gaan verby, maar wrede woorde verwond die siel.
Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig;
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.