
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Gedrewe om te Presteer
Prediker 4:6 Tog is ’n hand vol met rus beter as twee hande vol met moeite en ’n gejaag na wind (NLV)
Kan ek vandag vir jou ‘n netelige vragie vra? Is jy verslaaf aan jou werk? En indien ek nie nou met jou praat nie, is jy dalk getroud met ‘n werksverslaafde? Of is een van jou volwasse kinders 'n werksverslaafde? Want ek kan uit ondervinding praat, en vir jou sê, dit is 'n verskriklike siekte.
Volgens ’n gesamentlike verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Internasionale Arbeidsorganisasie, het lang werksure in 2016 gelei tot beroerte en iskemiese hartsiekte wat 745 000 meer sterftes wêreldwyd, veroorsaak het. Dit is 29% meer as in 2000 en ons kan ons net indink dat hierdie aantal sterftes sedertdien toegeneem het.
Volgens hul navorsing verhoog werk van 55 uur of meer, per week, in vergelyking met 'n 35-40 uur week, die risiko van beroerte met 35% en die kanse om aan hartsiektes te sterf, met 17%. Dis nie 'n mooi prentjie nie.
En weet jy wat die navorsers as die hoofredes vir die probleem van mense wat oorwerk is, bestempel het? Te hoë verwagtinge van werkgewers, onrealistiese spertye en die behoefte om ‘n te groot werkslading tuis in te haal.
Voeg daarby mense soos ek (en dalk jy ook) wat eenvoudig gedrewe is om hard te werk, baie van hulle is werksverslaafdes, en dit is 'n resep vir uitbranding soos min!
Nouja, gaan ons net aanhou om dieselfde foute oor en oor te maak, of is dit tyd om ons harte te ondersoek en by die wortel van hierdie kwaad uit te kom? Is dit nou sulke-tyd? Is dit nou die tyd om jou gedrag te verander en om jou lewe en jou gesin te red?
As jy eerlikwaar ’n werksverslaafde is, moet jy jouself afvra wat jou beweegrede is? Sukses, erkenning, geld … of wat?
Prediker 4:6 Tog is ’n hand vol met rus beter as twee hande vol met moeite en ’n gejaag na wind. (NLV)
Nee, my vriend, draai briek aan. Hou op om die wind te jaag. Op die ou end is dit eenvoudig nie die moeite werd nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.