
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Die Sabbatsrus van God
Genesis 2:1-3 Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.
Van al die dinge wat ons in die lewe ervaar; die goeie, die slegte, die lelike, almal van hulle... is daar een wat sonder ‘n sweempie van twyfel, die aangenaamste, een van die wonderlikste dinge ter wêreld is ... rus. Daar is niks so behaaglik as om jou kop saans na 'n lang, uitputtende dag op daardie sagte kussing neer te sit nie.
Trouens, as jy daaraan dink, is rus absoluut noodsaaklik vir ons oorlewing. Jy kan nie aanhou funksioneer daarsonder nie. Jou liggaam sal uiteindelik aan die slaap raak, dit maak nie saak hoe hard jy probeer om wakker te bly nie. Trouens, lang tye sonder slaap sal jou uiteindelik doodmaak.
Maar rus gaan nie net oor slaap nie. Ons moet ons emosies, ons verstand en ons liggame op talle maniere laat uitrus. Een of twee rusdae per week, weg van die werk af, 'n aangename wandeling in die bos, 'n vakansie nou en dan. Ons weet almal hoe belangrik daardie dinge is.
En hoekom sê ons rus is belangrik? Dit was immers van die begin af God se plan.
Genesis 2:1-3 Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het.
Miskien dink jy ek het hierdie hele rus-ding oor die laaste paar weke te veel beklemtoon. Maar ons weet almal dat ons in 'n wêreld wat aan uitbranding ly, leef. ’n Wêreld waarin mense emosioneel, geestelik en fisies siek is; ‘n wêreld waarin huwelike uitmekaar val; ‘n wêreld waar kinders sonder liefde grootword; lewens gaan tot niet, bloot omdat mense die kuns van rus verleer het.
God het die Sabbat geseën, Hy het dit afgesonder vir rus. Sy rus. Jou rus.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.