
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Jesus se Liefdevolle Betrokkenheid (1)
Markus 2:13-14 Jesus het weer na die see toe gegaan. 'n Hele menigte mense het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer. Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom: “Volg My!” Levi het opgestaan en Hom gevolg.
Wanneer jy na al die suksesvolle mense rondom jou kyk, diegene in die kollig, diegene wat gereeld die klop op die skouer kry en "welgedaan" toegeroep word, en jy vergelyk jouself met hulle, dan is dit maklik om minderwaardig te voel.
As ek terugdink, is een van die dinge in my lewe waaroor ek werklik spyt is, die feit dat die wêreldse prentjie van hoe ‘n suksesvolle persoon moet lyk, op een of ander manier in my kop nes gemaak het. Dit het my in 'n wêreld van pyn gedompel wat ek andersins sou kon vermy het.
Ek het vas geglo dat sukses alles is - my ideaal was om die duurste motor in my portuurgroep te hê, om 'n indrukwekkende huis met een van daardie prentjiemooi versorgde grasperke in die voortuin te hê, en die duurste klere te dra...
Weet jy hoe dit my lewe verwoes het? Dit het my van my belangrikste verhoudings beroof, om die waarheid te sê, van byna al my verhoudings, want in my strewe na sukses, het ek nie omgegee wie ek in die proses platgetrap het nie.
Toe ek alles verloor het, was ek absoluut seker dat niemand iets met my te doen sou wou hê nie.
Markus 2:13-14 Jesus het weer na die see toe gegaan. 'n Hele menigte mense het na Hom toe gekom, en Hy het hulle geleer. Toe Hy by die tolhuis verbygaan, sien Hy vir Levi seun van Alfeus daar sit, en Hy sê vir hom: “Volg My!” Levi het opgestaan en Hom gevolg.
Jesus, was op hierdie stadium reeds ‘n baie belangrike persoon met ‘n groot aanhang onder die mense. En hier kom Hy en nooi 'n tollenaar, Levi, wat destyds deur die Jode verag en verstoot is, om Hom te volg.
Nee, my maat, moet nooit besluit dat jy nie goed genoeg is nie. Dit maak nie saak hoe ver jy dalk geval het, of hoe hopeloos jy dalk voel nie, die liefdevolle oog van die Here Jesus is op jou.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.