
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
In Daardie Gevaarlike Geheime Oomblikke
Romeine 13:13-14 Ons moet ordentlik lewe sodat dit die toets van die daglig kan deurstaan. Ons moet nie betrokke wees by wilde en dronkwordpartytjies, by seksuele en losbandige uitspattigheid, of onenigheid of afgunstigheid nie. Nee, soos ’n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus “aantrek”, en nie ’n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie. (NLV)
Ons kom almal voor versoekings in die lewe te staan. Al trek mense deesdae op ‘n ander wyse die lyn tussen reg en verkeerd, bly reg steeds reg, en op die ou end is verkeerd steeds verkeerd. So hoe reageer jy op versoeking?
Augustinus van Hippo, wat gedurende die 4de en 5de eeue nC geleef het, was een van die invloedrykste Christelike teoloë in die geskiedenis. Maar voor sy bekering het hy 'n lewe gelei wat gekenmerk is deur sy deelname aan uitspattige wêreldse plesier. Hy het jare lank gesukkel om van onsedelikheid en die sogenaamde ‘begeertes van die vlees’ genees te word en dit baie moeilik gevind om sy ou weë te laat vaar.
Die keerpunt het egter in 'n tuin in Milaan gekom, toe Augustinus 'n kinderstem hoor sing het: "Neem dit en lees." Hy het dit as 'n goddelike opdrag beskou en die Bybel oopgemaak en op hierdie gedeelte afgekom:
Romeine 13:13-14 Ons moet ordentlik lewe sodat dit die toets van die daglig kan deurstaan. Ons moet nie betrokke wees by wilde en dronkwordpartytjies, by seksuele en losbandige uitspattigheid, of onenigheid of afgunstigheid nie. Nee, soos ’n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus “aantrek”, en nie ’n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie. (NLV)
Daardie verse het Augustinus diep getref. Hy het summier sy huidige lewenstyl verwerp; hy is gedoop en het besluit om Jesus met sy hele hart te volg. Tot vandag toe vorm sy geskrifte ‘n baie belangrike rol in die Christendom.
Hoe ons op die ou end in daardie verborge oomblikke op versoekings reageer, is wat die res van ons lewens sal vorm. En weet jy dat daar soveel wysheid in God se Woord is; wysheid waardeur die krag van die Heilige Gees werk om mense totaal te verander.
...soos ’n mens jou klere aantrek, moet julle die Here Jesus Christus “aantrek”, en nie ’n duimbreedte toegee aan die begeertes van julle sondige natuur nie.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.