
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Gevaar! Afgrond Voor!
Hebreërs10:26-27 As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie. Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer. (NLV)
Verbeel jou net vir 'n oomblik dat jy op die rand van 'n styl krans staan. Onder jou is skerp rotswande en indien jy val, is dit klaarpraat met jou. Die wind huil gevaarlik, maar gelukkig het iemand 'n waarskuwingsteken daar opgerig: "Gevaar! Afgrond Voor!" Jy sal nie eers oorweeg om te naby aan die afgrond te gaan staan nie; nie waar nie?
Dit is presies waarteen ons hier gewaarsku word – dis 'n waarskuwingsteken en een wat nie ligtelik opgeneem moet word nie.
Hebreërs 10:26-27 As ons besluit om aan te hou sondig nadat ons die waarheid geleer het, dan is daar geen ander offer wat sondes sal wegneem nie. As ons aanhou sondig, is al wat vir ons oorbly 'n vreeslike tyd van wag vir die oordeel en die woedende vuur wat diegene sal vernietig wat teen God lewe.
God se genade, deur Jesus Christus, is soos 'n veiligheidsnet wat onder ons oopgespan is, een wat gereed is om ons te vang wanneer ons val. Maar as ons doelbewus, moedswillig aanhou stap na daardie krans se rand, is daar geen veiligheidsnet meer om ons te vang nie. Jesus se offer wat Hy vir ons betaal het vir ons sondes, is nie meer daar om ons te beskerm nie, want ons het gekies om dit te verwerp.
Nee, wag nou, nee, dit beteken nie dat God nie genadig of vergewensgesind is nie. Hy is. Maar sy genade is nie iets om op te trap nie. Dit is nie 'n ‘kom skotvry uit die tronk’- kaart wat ons laat aanhou sondig asof dit nie saak maak nie.
Doelbewuste, voortdurende sonde is soos om die Een wat gesterf het om jou te red, in die gesig te spoeg. Hier is die waarskuwingsteken: moenie speletjies met God se genade speel nie. As jy met sonde speel en dink jy kan altyd later terugkom, dink weer...
God se oordeel is ‘n werklikheid en sy heiligheid is ook ‘n werklikheid, maar hier is die goeie nuus: om jou sonde opreg te bely en vergifnis te vra, is altyd 'n opsie - net hier, nou. Kies die veiligheid van God se genade en stap weg van die krans af en bly weg van kranse af!
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.