
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Christelike Geloof Verloor Aanhang
Matteus16:18 En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Daar word deesdae dikwels gesê dat die Christendom wêreldwyd besig is om agteruit te gaan. Dit is iets wat die heidene vier, met die hoop dat dit eendag binnekort, vir eens en vir altyd, nie meer sal bestaan nie. Maar is dit regtig waar?
Ja, dis in ‘n sekere sin korrek. Die tradisionele Christendom is besig om in onder andere Europa en Noord-Amerika in getal af te neem. Hulle skryf dit toe aan die politieke beginsel waar groter klem op ánder aspekte van die lewe gelê word; laer geboortesyfers en die feit dat mense die verbintenis aan hulle kerke verbreek het.
Maar in Afrika suid van die Sahara en dele van Asië floreer dit. Teen 2060 sal Afrika na verwagting meer as 40% van die wêreld se Christene bevat. Die Christenbevolking in Asië is ook besig om aansienlike te groei, met projeksies dat dit teen 2050 tot byna 600 miljoen sal styg.
Met Christene wat byna 'n derde van die wêreld se bevolking uitmaak (dit is 2,5 miljard mense) sou ek nie my asem ophou om te sien, hoe vinnig al hierdie verkeerde projeksies verdwyn nie.
Biskop Lesslie Newbigin, ‘n 20ste-eeuse sendeling na Indië, het dit so gestel: Die kerk het magtige ryke, filosofiese stelsels en totalitêre stelsels oorleef. Die dinge wat blykbaar vandag die hele milieu van openbare denke oorheers, sal so twintig jaar van nou af, eenvoudig sprokies uit die verlede wees. Maar die kerk sal steeds daar wees. Of, soos Jesus vir die apostel Petrus gesê het …
Matteus 16:18 En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.
Dit wys ons mos dat Jesus 'n plan het. Hou moed. Staan vas. Gaan voort. Hy kom terug … miskien gouer as wat ons almal dink. Hy het sy kerk gebou, die gemeenskap van sy dissipels is op vaste grond gebou en selfs die poorte van die Hel self kan dit nie oorweldig nie.
Dis Sy Woord. Vars … vir jou … vandag.