
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Prokureurs en Regters
Matteus 7:1-2 Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.
Ek hou nie daarvan om foute te maak nie – maar ek moet ruiterlik erken dat ek soms oordeelsfoute maak en dinge instinktief sê of doen waaroor ek later spyt is. Maar jy weet seker nou presies waarvan ek praat, want ons maak almal foute, Nè!
En hier is ons strategie: Wanneer ons 'n fout maak, probeer ons dit óf ignoreer, óf dit te regverdig deur een of ander verskoning te maak om onsself uit die pekel te kry.
Maar o wee, staan terug, want wanneer iemand anders 'n fout maak wat ons lewe beïnvloed, of ons selfs net so effens verontrief, dán reageer ons! Dan trek ons los – óf deur ‘n stortvloed van woorde, óf deur ons harte teenoor hulle te verhard.
Soos iemand eenkeer gesê het, ons is baie goeie prokureurs as dit by ons eie foute kom; maar ons is baie ongenadige regters wanneer dit by die foute van ander kom!
Hoekom is dit so? Hoekom is dit dat wanneer iemand anders iets verkeerd doen, ons ‘vergeet’ dat hulle ook mense is? Ons dink nie daaraan dat hulle ook ‘dinge’ in hul lewens aan die gang het nie. Waarom dink ons nie vir ‘n oomblik aan die seerkry, stres, letsels of gebreke wat hulle gedrag kan beïnvloed nie? Waarom nie?
Jesus het in die Bergpredikasie, 'n baie sterk waarskuwing oor hierdie einste ding gegee:
Matteus 7:1-2 Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word.
Kyk mooi na die kern van hierdie streng waarskuwing. God sal jou op dieselfde manier behandel as wat jy ander behandel.
Hou op om ander mense sonder genade te oordeel.
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.