
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Beloning vir Nederigheid
Psalm 149:4 Die Here se kinders gee Hom groot plesier. Mense sonder status of belangrikheid behandel Hy soos konings wanneer Hy hulle help. (DB)
Nederigheid is iets wat ons hoog ag, maar tog selde vind. Ek praat nie van die soort valse nederigheid wat net 'n front is vir die trots binne-in nie, maar van 'n opregte nederigheid, waar ons onsself voor God en ander verootmoedig.
Destyds het koning Hiskia van Juda ernstig siek geword, en die profeet Jesaja, het 'n boodskap van God aan hom oorgedra dat hy sou sterf.
2 Konings 20:2-6Toe draai Hiskia sy gesig na die muur toe en hy bid tot die Here: “Ag, Here, neem tog in ag dat ek voor U in trou en met volle oorgawe geleef het en dat ek gedoen het wat reg is in u oë.” Hiskia het bitterlik gehuil. Jesaja was nog nie die binneplein van die stad oor nie toe die woord van die Here tot hom kom en sê: “Gaan terug en sê vir Hiskia, die leier van my volk: So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: Ek het jou gebed verhoor, Ek het jou trane gesien. Ek gaan jou gesond maak, en jy sal oormôre weer na die huis van die Here toe kan gaan. Ek sal jou lewe met vyftien jaar verleng en jou en dié stad red uit die mag van die koning van Assirië. Ek sal dié stad beskerm, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”
Soms neem ons trots oor en ten spyte van die feit dat ons eintlik weet ons kan nie, dink ons dat ons alles op ons eie kan hanteer. Maar wanneer ons onsself voor God verootmoedig … begin wonderlike dinge gebeur.
Psalm 149:4 Die Here se kinders gee Hom groot plesier. Mense sonder status of belangrikheid behandel Hy soos konings wanneer Hy hulle help. (DB)
Dit is God se Woord. Vars … vir jou … vandag.