
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Instinktiewe Reaksies
1 Petrus 3:9 Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën. (NLV)
Hoe reageer jy wanneer iemand jou sleg behandel; wanneer hulle jou ignoreer of beledig ...? Die antwoord vir die meeste van ons is dat ons instinktief reageer en dieselfde aangeleerde patroon in konfliksituasies kies.
Nouja, niemand van ons hou daarvan om geïgnoreer, verkleineer, of sleg van gedink, of van gepraat te word nie. Nie een van ons wil hê dat die mense ná aan ons, ons moet afjak nie. Maar dit gebeur amper daagliks. So, dink mooi, wat is jou instinktiewe reaksie?
Diegene met 'n sterk persoonlikheidstipe is geneig om terug te kap en mense presies te laat weet wat hulle dink. Dis 'n goeie manier om konflik nog ‘n paar grade in die rooi te laat styg, of hoe!
Ander bly stil, maar dis net om hulle tyd te gee om hulle wraak te beplan. Jy ken die gesegde: moenie kwaad word nie, betaal hom in eie munt terug. En hoe sal dit werk vir die verhouding met daardie persoon? Wel...
Ander neem alles ter harte en krul op in 'n emosionele balletjie van pyn. Hoe beïnvloed dit hul eiewaarde in die toekoms? Maar daar is nog 'n opsie.
1 Petrus 3:9 Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën. (NLV)
Victor Frankl, ‘n persoon wat die Holocaust, oftewel die Joodse Volksmoord, oorleef het, het dit so gestel: Alles kan van 'n mens weggeneem word, behalwe een ding: die laaste van die menslike vryhede - om jou houding in enige gegewe situasie te kies; om jou eie weg te baan.
So, kies om nie terug te baklei nie. Kies om God eerder te vra om die ander persoon te seën.
Dis Sy Woord. Vars ... vir jou ... vandag.