
God se Woord VARS vir jou Vandag
God se Woord VARS vir jou Vandag
Oorwinnings in Beproewings
Romeine 8:18 Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie. (NLV)
Die lyding en beproewings van die lewe kan soms net te veel word vir enige normale mens. Miskien is dit net die laaste paar druppels wat die emmer laat oorloop? Ander kere tref iets jou soos 'n tsoenami. Wat jou omstandighede op die oomblik ook al is; dit maak jou kapoet, of hoe?
Die bediening van Smith Wigglesworth, die negentiende en twintigste-eeuse evangelis, is gekenmerk deur wonderbaarlike genesings, kragtige prediking en ‘n diep, diep geloof. En tog, het hy ten spyte van sy kragtige prediking en wonderlike genesingsbediening, self aan 'n paar uiters pynlike gesondheidsprobleme gely. Maar hy het ten spyte van sy eie swak gesondheid volhard. Hy het aangehou om te bedien, en aangehou om in goddelike genesing te glo.
Sy dapper en rotsvaste geloof in God se krag inspireer tot vandag toe baie mense. So ... wat het hom aan die gang gehou? Hoe het hy dit reggekry om deur sy stryd te kom en ten spyte daarvan te seëvier?
Romeine 8:18 Ek weet vir seker dat ons huidige lyding hoegenaamd nie vergelyk kan word met die heerlikheid waarmee God ons gaan verras nie. (NLV)
Wigglesworth het dit so gestel: God kan 'n persoon so met sy Gees vul, dat hy te midde van duisende probleme kan lag en glo.
Kyk, ons kan nie ons stryd ontken nie; ons kan nie voorgee dat dit nie bestaan nie. Maar wanneer ons ons harte oopmaak vir die Heilige Gees; wanneer ons Hom toelaat om vir ons te oortuig van die waarheid van die groot heerlikheid wat vir ewig op ons wag; en wanneer ons Hom toelaat om ons tot oorlopens te vul, dan is vandag se stryd, in die konteks van die ewigheid, so klein en onbenullig dat ons inderdaad te midde daarvan kan lag en glo.
Ja, natuurlik voel ons lyding nou vir ons oorweldigend, maar dit is niks in vergelyking met die groot heerlikheid wat vir ons gegee gaan word nie.
Dis God se Woord. Vars … vir jou … vandag.