God se Woord VARS vir jou Vandag

Januarie Nuusbrief 2

Jokkie Gauché on behalf of Berni Dymet

Use Left/Right to seek, Home/End to jump to start or end. Hold shift to jump forward or backward.

0:00 | 4:49

Goeiemôre aan al ons VARS-potgooivriende. Ek is Jokkie Gauché en hier is VARSVANDAG se Tweede Januarie Nuusbrief: 

 

Die jaar is nie meer so splinternuut nie; die stof het gaan lê. Het jy al jou voete gevind? Het werksdae, skoolritte en verantwoordelikhede weer hul plek ingeneem? Of bevind jy jou in ’n seisoen waar tyd oorvloedig is en jou nooi om ’n dieper vraag te vra: Hoe gaan ek dit wat aan my toevertrou is, gebruik om vir ander tot seën te wees?

Ek is gevra om vandag my getuienis met jou te deel — ’n verhaal van God se getrouheid en transformerende genade. Ek en my vrou is bevoorreg om die FRESH-dagstukkies, wat deur Berni Dymet geskryf word, in Afrikaans te vertaal en op te neem. Deur God se genade word hierdie Afrikaanse opnames daagliks in 442 stede, in 57 lande geluister. Ons versprei dit ook na ongeveer 20 radiostasies, wat luisteraars regoor Suid-Afrika en Namibië bereik.


Hier is my getuienis:

Ek het grootgeword in ’n gewone Christelike huis op die platteland van Zoeloeland. My ouers was boere, en ek het op vyfjarige ouderdom skool toe gegaan. Vroeg reeds het ek ‘n graad oorgeslaan, en van toe af was ek altyd die jongste en die kleinste in my klas. Wat mense destyds as “oulik” beskou het, het my stilweg gevorm op maniere wat ek nie verstaan het nie.

Alhoewel ek goed presteer het, het ek altyd gevoel dat ek nie genoegsaam is nie, en op een of ander manier minderwaardig — ’n gevoel wat my tot in my volwassenheid gevolg het.

Na my studies en diensplig het ek my pa se plaas oorgeneem. ’n Jaar later is ek getroud, en ná tien jaar op die plaas, met twee seuns, het ons ’n suksesvolle boerdery verkoop en ons eie konstruksiemaatskappy begin.

Maar die ou gevoelens van ontoereikendheid het my bly agtervolg. Ek het geleer om hard te wees, om die “macho-man” te speel, en ek het al hoe meer begin drink. Die besigheid het te vinnig gegroei, ek het alles self probeer dra, en stadig maar seker het dinge begin verbrokkel. Ek het geld en plesier nagejaag en my bes probeer om God te vermy. Ek het nog af en toe kerk toe gegaan om mense tevrede te hou, maar ek het nie ’n werklike verhouding met Jesus gehad nie. Binne-in was ek heeltemal verlore.

Te midde van daardie nagmerrieseisoen het ek ’n byeenkoms van die Afrikaanse Kamer van Koophandel bygewoon. Daardie aand het die spreker oor prioriteite gepraat — en skielik het ek besef hoe myne heeltemal skeef was. Toe ek by die huis kom, het ek langs my bed gekniel, my mislukking voor die Here bely en Hom gevra om my te vergewe, beheer oor my lewe te neem en dit wat gebreek was, te herstel. Van daardie aand af het alles verander.

In Christus het ek ’n nuwe mens geword. Die woorde van 2 Korintiërs 5:17: “As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepping” het my werklikheid geword. Ek het opgehou drink, my Bybel begin lees en betrokke geraak by Bybelstudies en Bybelskool. Ons gesin het begin om saam huisgodsdiens te hou. Met diep dankbaarheid kan ek ook getuig dat ons twee seuns Jesus persoonlik leer ken het en Hom in hul lewens ingenooi het.

Keer op keer het die Here sy roeping bevestig deur hierdie belofte in: Openbaring 3:8, Kyk, Ek het 'n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie. 

Sedertdien het ek die voorreg gehad om deur Jesus Film-uitreike dwarsoor Suid-Afrika die boodskap van Christus uit te dra. Ek het daarna gefokus op dissipelskapopleiding en onderrig oor ons identiteit in Christus, selfs tot in Rusland. Vandag is dit my voorreg om saam met my vrou hierdie VARS-boodskappe te vervaardig, en God te vertrou om dit vir Sy doel te gebruik.

Mag die Here jou seën terwyl jy luister, en mag Hy ook vir jou deure oopmaak om op sy roeping te reageer.

Laat ons gerus weet as die Here jou hart deur hierdie VARS-boodskappe of getuienisse aangeraak het. Bid asseblief vir die uitbreiding van die Koninkryk van ons Here Jesus Christus, en vra Hom om jou te wys op watter manier jy by die VARS-bediening betrokke kan raak.

Seënwense en mooi loop van Jokkie en Annelie Gauché en die VARS-span

Aanlyn Betalingsopsies vir Christianityworks se bediening in RSA:

Bank:                      First National Bank (FNB)

Rekening naam:       Christianityworks NPC

Takkode:                 250655

Rekeningnommer:   6286 0951 550 

https://christianityworks.co.za/af/donate/ vir aanlyn betalingsopsies.

of

SKENK